Sedert die ontstaan van die Klein Libertas-teater in 1960 is dit gevestig as een van Stellenbosch se kulturele pilare. Hierdie rol is in die negentigerjare uitgebrei tot ‘n sterk gemeenskapsgerigte rol. Tans is dit nie net bekend as ‘n gevestigde teater wat uitsonderlike kwaliteit werk lewer nie, maar ook as ‘n betroubare instelling vir die vervaardiging van opvoedkundige produksies vir alle ouderdomme wat deur die provinsie toer.
Die teatergebou van hierdie kulturele pilaar en gemeenskapsteater van Stellenbosch (Suid-Afrika) en omgewing is deur ‘n verwoestende brand vernietig in die vroeë oggendure van 13 Junie 2015. Die brand is deur ‘n elektriese kortsluiting veroorsaak. Alhoewel die teater tans geen gebou het waaruit dit kan funksioneer nie, gaan die gemeenskapswerk en opvoedkundige vertonings soos gewoonlik voort. Daar kan ongelukkig net nie meer soveel werk vir kunstenaars geskep word soos voorheen nie.
Wat's Aan
Afrikaanse Kinderstorie Potgooi.
Wilma en Wouter se towerboek avonture na Niemandsland
’n Betowerende Afrikaanse storie vir jong luisteraars, vervaardig deur die Klein Libertas Teater in samewerking met Venture Recording Music Academy (VRMA).
Luister
Kyk
Teks & Lirieke: Kálene Botha (VRMA)
Musiek- en Klankproduksie: Lehan Venter (VRMA)
Stemakteurs:
Wilma – Kálene Botha
Wouter – Heinrich Wentzel
Fila vink – Leatitia Solomons
Sarie swaeltjie – Carien Punt
Mamma – Marzanne Nagel
Ons hoor graag wat jy of jou kinders van die eerste episode dink, sodat ons toekomstige episodes kan verbeter. Klik asseblief op die knoppie hieronder om vir ons ’n e-pos te stuur.
Tienertoneelfees
Sedert 2005 bied die teater die Klein Libertas Teater Tienertoneelfees in Augustus aan. Hierdie jaarlikse toneelfees bied aan leerders ‘n unieke optree geleentheid omdat hulle by geen ander toneelfees sulke intensiewe terugvoer van professionele teaterpraktisyns ontvang nie. Die doel van die fees is om die kwaliteit van deelnemers se werk te verbeter, hulle aan te moedig en erkenning te gee en om Afrikaanse skryfkuns te stimuleer.
Drie professionele teaterpraktisyns beoordeel die produksies en gee na elke opvoering deeglike terugvoer aan die groepe. Verdienstelike deelnemers ontvang sertifikate en aan die einde van die toneelfees word daar by die prysuitdeling trofeë aan die algehele wenners in die verskillende kategorieë oorhandig. Die beste produksie van die fees ontvang die teater se gesogte wisseltrofee en kry ook die geleentheid om by die volgende Suidoosterfees op te tree. Die beoordelaars by vanjaar (2026) se toneelfees was Marion Holm, Leatitia Solomons en Oscar Petersen.
2026 se wenners was Hoërskool Durbanville met hulle produksie “Asemrowers”. Amelie Bruwer (“Asemrowers – Hoërskool Durbanville) was aangewys as Beste Aktrise en Lian Winckler (“Die Republiek van Môre” – Hoër Meisieskool Bloemhof) as Beste Akteur. Die Beste Junior Produksie was Laerskool Beaumont se “Uil”.
Interaktiewe Teater
“Oom Shakes leer skoonmaak” is in opdrag van die Kaapse Wynland Distrik Munisipaliteit geskep om inligting aan leerders te gee rakende higiëne, herwinning en veiligheid rondom die bediening van kos. Vanaf Februarie tot Mei 2026 word altesaam 65 opvoerings by skole in die Drakenstein-, Langeberg-, Breedevallei- en Witzenberg areas gedoen.
Afhangende van die leerders se taal, word die opvoerings in Afrikaans, Engels of isiXhosa gedoen.
Die akteurs in die 2026 produksie is (agter, links na regs): Jurgen McEwan, Dean van der Ventel, Kgahliso Matloga, Lukhona Mkunyana, Aviwe Ngabom, en (voor, links) Noxolo Bodlani. Saam op die foto is Carien Punt, wat vanaf 2005 projekbestuurder en sekretaresse was en die gemeenskapsteater onder haar vlerk geneem het.

