Ons Storie

Die Klein Libertas Teater is op 5 April 1960 deur teaterliefhebbers gestig as ’n amateurteaterklub. Die klub, wat aanvanklik as die Libertas Teaterklub bekend gestaan het, het sy hoofkantoor in die ou wynkelder op die Vredelust-plaas in Dorpstraat gehad. Toeskouers moes hul eie stoele saambring om op te sit tydens opvoerings, en die kleedkamers vir die akteurs was twee reuse houtwynvate. Die klub het met groot sukses uitgebrei en het later stoele aangekoop. In 1962 het dit na ’n ou stal op die Bergzicht-terrein verskuif, wat van die Stellenbosch-munisipaliteit gehuur is. In 1977 is die naam verander na Klein Libertas Teater om dit te onderskei van die Oude Libertas Teater van Distell.

Toe die kunsrade in 1994 verval het, moes kunstenaars begin om self werk te skep, en die Klein Libertas Teater is toe ook al hoe meer deur professionele kunstenaars gebruik. Die teater het nie net sy amateurvleuel lewendig gehou nie, maar Amelda Brand en Francois Toerien het ook begin uitreik na voorheen benadeelde gebiede en plase waar dramaklasse aangebied is met die doel om sosiale probleme, soos alkoholmisbruik, aan te spreek deur middel van die drama-in-opvoeding-metode. In 2002 is die eerste voltydse teaterbestuurder, Gigi Fourie, aangestel. In 2005 is Carien Punt as sekretaresse aangestel en het sy ook die gemeenskapsteater onder haar vlerk geneem. Dit het ’n onverwagte oplewing tot gevolg gehad en in 2007 het die teater ’n geregistreerde nie-winsgewende maatskappy geword.

Grootskaalse toevoegings en verbeterings is in 2011 aangebring. Dit het die teater in staat gestel om verskeie gemeenskapsprojekte aan te bied, informele opleiding aan te bied, en gereeld professionele opvoerings te vervaardig. Hierdie produksies is nie net plaaslik opgevoer nie, maar ook by kunstefeeste, en baie van die akteurs het benoemings en pryse vir hul spel ontvang. Vanweë sy hoë standaard en gehalte van werk, is die Klein Libertas Teater gereeld versoek om opvoedkundige produksies te vervaardig. Hierdie produksies het ’n deurlopende inkomste vir professionele en amateurakteurs geskep.

Op 13 Junie 2015 het ’n groot deel van die teater afgebrand en sedertdien kon die bestuur nog nie ’n geskikte vervangende gebou vind nie. Die Klein Libertas Teater het ’n lang geskiedenis van innovasie in die teaterwêreld en het sedert sy ontstaan werk van uitstaande gehalte gelewer, maar sonder ’n teatergebou kan daar ongelukkig tans slegs projekte en produksies aangepak word waarvoor daar fondse beskikbaar is.

Doel

The Klein Libertas Teater beywer hom daarvoor om projekte in gemeenskappe te doen wat:

  • Jongmense van die strate af hou en diegene wat nie in sport geïnteresseerd is nie te akkommodeer.
  • Ons jeug kan motiveer en hoop gee.
  • Selfvertroue en eie waarde bou.
  • Probleem identifisering en -oplossing kan leer.
  • Leierskap ontwikkel.
  • Kreatiwiteit stimuleer.
  • Konsentrasie en luister vermoë ontwikkel.
  • Vaardighede bou.
  • Bydra tot ‘n gebalanseerde en toepaslike stel norme en waardes.
  • Werk skep vir teaterpraktisyns (professioneel en amateur) en entrepreneurskap aanmoedig.

Missie

Die Klein Libertas-teater strewe daarna om die gemeenskap van Stellenbosch en omgewing te dien met kultuurbedrywighede en die beste opvoerende kuns. Dit wil graag aan akteurs en teaterpraktisyns die geleentheid bied om betrokke te raak en kontak met die breë teater-wêreld te bou – veral die jeug en jong opkomende kunstenaars.

Visie

Dit is die Klein Libertas Teater se visie

  • om ‘n leidende rol te speel in al die bene waarop dit funksioneer naamlik: gemeenskaps-, kinder- en jeug-, amateur en professionele teater;
  • om opleiding in drama en teater te verskaf in agtergeblewene gemeenskappe;
  • om werk te verskaf aan akteurs, regisseurs en vervaardigers;
  • om ‘n omgewing te skep waar kunstenaars geborge kan voel en waar hulle hul talente kan ontwikkel.