Sedert die ontstaan ​​van die Klein Libertas-teater in 1960 is dit gevestig as een van Stellenbosch se kulturele pilare. Hierdie rol is in die negentigerjare uitgebrei tot ‘n sterk gemeenskapsgerigte rol.  Tans is dit nie net bekend as ‘n gevestigde teater wat uitsonderlike kwaliteit werk lewer nie, maar ook as ‘n betroubare instelling vir die vervaardiging van opvoedkundige produksies vir alle ouderdomme wat deur die provinsie toer.

Die teatergebou van hierdie kulturele pilaar en gemeenskapsteater van Stellenbosch (Suid-Afrika) en omgewing is deur ‘n verwoestende brand vernietig in die vroeë oggendure van 13 Junie 2015. Die brand is deur ‘n elektriese kortsluiting veroorsaak. Alhoewel die teater tans geen gebou het waaruit dit kan funksioneer nie, gaan die gemeenskapswerk en opvoedkundige vertonings soos gewoonlik voort. Daar kan ongelukkig net nie meer soveel werk vir kunstenaars geskep word soos voorheen nie.

Wat's Aan

Oom Shakes Leer Skoonmaak

4 Oktober 2025 – Tankwa Padstal, Ceres | 10:00

13 Oktober 2025 – Worcester

18 November 2025 – Stellenbosch Stadsaal

Tienertoneelfees

Sedert 2005 bied die teater die Klein Libertas Teater Tienertoneelfees in Augustus aan. Hierdie jaarlikse toneelfees bied aan leerders ‘n unieke optree geleentheid omdat hulle by geen ander toneelfees sulke intensiewe terugvoer van professionele teaterpraktisyns ontvang nie. Die doel van die fees is om die kwaliteit van deelnemers se werk te verbeter, hulle aan te moedig en erkenning te gee en om Afrikaanse skryfkuns te stimuleer.

Drie professionele teaterpraktisyns beoordeel die produksies en gee na elke opvoering deeglike terugvoer aan die groepe. Verdienstelike deelnemers ontvang sertifikate en aan die einde van die toneelfees word daar by die prysuitdeling trofeë aan die algehele wenners in die verskillende kategorieë oorhandig. Die beste produksie van die fees ontvang die teater se gesogte wisseltrofee en kry ook die geleentheid om by die volgende Suidoosterfees op te tree. Die beoordelaars by vanjaar (2025) se toneelfees was Marion Holm, Leatitia Solomons en Oscar Petersen (saam Carien Punt in foto).

2025 se wenners was Hoërskool Parel Vallei met hulle produksie “Boet en Saartjie”. Op foto saam Mawande Ndywamba, direkteur van KLT, is Jaques Joubert, William Le Roux, Carli Erasmus en Andus van Rooyen. 

Paul Roos se “Raap” stap ook weg met die trofee vir Beste Grimering.

Oom Shakes Leer Skoonmaak

Hierdie produksie is in opdrag van die Kaapse Wynland Distrik Munisipaliteit geskep om inligting aan leerders te gee rakende higiëne en veiligheid rondom die bediening van kos. Vanaf Februarie tot Mei 2025 is altesaam 60 opvoerings by skole in die Drakenstein-, Langeberg-, Breedevallei- en Witzenberg areas gedoen.

Afhangende van die leerders se taal, word die opvoerings in Afrikaans, Engels of isiXhosa gedoen.

Die akteurs in die produksie is Dean van der Ventel, JR Mc Ewan, Aviwe Ngabom, Siyamthanda Bangani en Noxolo Bodlani.

Oudiodrama

‘n Kompetisie vir ‘n radiodrama teks is op die Klein Libertasteater se webwerf en Facebookblad geadverteer. Uit die 5 inskrywings is Martyn le Roux se teks, Dryfhout, as die wenner aangewys. Omdat hy reeds jare lank gereeld vir RSG radiodramas skryf en ook baie ervaring het met die regie van opnames, is hy ook as regisseur aangestel. Die Klein Libertasteater is veral bly daaroor dat hierdie projek ook vir twee blinde persone werk kon skep: die man wat die klankopname hanteer het en die aktrise wat die rol van Belinda gespeel het. Hierdie oudiodrama is ook op 24 Februarie 2022 op Valley FM (‘n radiostasie in Worcester) uitgesaai. Die opname is 1h 42 min lank.

Uit die pen van multi-bekroonde skrywer Martyn le Roux, kom ‘n verhaal van drie mense en ‘n hond wat jou lank sal by bly…

DRYFHOUT – DIE VERHAAL. Die lewe gee jou eers die toets…dan leer dit jou die les daarna… Drie hawelose mense en ‘n hond met lang ore word deur omstandighede saamgewerp. Hulle besluit om Kaapstad toe te stap vanaf Johannesburg. Niemand weet waarom James Harris sy lewe as dosent aan die US opgegee het om die lewe van ‘n boemelaar te lei nie. ‘n Beeldskone voshaar vrou wat van haar verlede probeer vlug, sluit haar aan by hom en sy vriend, Ziggy Swiegelaar (Swiegers), ‘n veteraan van die lang pad, wat iewers in ‘n myn gewerk het en nou die “groot griep” het. Soos die verhaal verloop onthul hulle elkeen sy verlede en wyshede.

Almal harloop weg vir iets in hul lewe…maar iewers moet jy ophou hardloop en weer jou rigting vind en elkeen het sy eie wat vir hom of haar werk…