Tienertoneelfees 2025

Parel Vallei wen topprys by tienertoneelfees – Posted on August 12th, 2025 by Danielle Schaafsma

Bron: https://www.smfnews.org/parel-vallei-wen-topprys-by-tienertoneelfees/

’n Toneelstuk van Hoërskool Parel Vallei is onlangs as die beste produksie by ’n plaaslike toneelfees aangewys. SMF News het die geleentheid bygewoon. Boet en Saartjie, opgevoer deur leerders van die skool, het by die 18de Klein Libertas Tienertoneelfees die prys vir beste produksie gewen. Die toneelfees is van 5 tot 9 Augustus by die Drostdy Teater gehou. Die prys sluit in ’n wisseltrofee en die geleentheid om in 2026 by die Suidoosterfees in Kaapstad op te tree, volgens Carien Punt, sekretaresse en projekbestuurder van die Klein Libertas-teatergroep. Die produksie het ook die prys vir beste aktrise en ondersteunende aktrise gewen.

Volgens Darryl Spijkers, skrywer en regisseur van Boet en Saartjie, is dit die eerste keer in tien jaar dat Hoërskool Parel Vallei aan die Klein Libertas Tienertoneelfees deelgeneem het. “Ons is baie trots op ons kinders,” het Spijkers gesê. Die prys beteken baie vir die kinders omdat hulle by die Suidoosterfees die kans gaan kry om op ’n professionele platform op te tree, het hy bygevoeg. “Wanneer tieners [die produksie] kyk, hoop ek hulle sal verteenwoordig en seen voel,” het Spijkers gesê. “Ek hoop dat soos hulle vorentoe gaan, hulle net sal groei en sal grootword om hul kinders groot te maak op ’n manier wat hulle nie toelaat om ook deur die krake te val nie.”

Die ‘eerste tree’

Volgens Punt is ’n totaal van 18 toneelstukke in vanjaar se tienertoneelfees op die planke gebring. Die fees gee aan jong akteurs ’n geleentheid om hul selfvertroue te bou, respek en dissipline te leer en om te leer hoe om terselfdertyd braaf en kwesbaar te wees, het Marion Holm, aktrise en beoordelaar van die fees, gesê.

Tienertoneel is die perfekte beginpunt vir ’n kind, al gaan hulle nie in die dramatiese kunste opeindig nie, volgens Holm.

“As jy die Comrades wil hardloop moet jy by die eerste tree begin. Hierdie is [hulle] eerste tree,” het Holm gesê.

Volgens Leatitia Solomons, ’n aktrise, skrywer en film- en toneelstuk regisseur wat die fees beoordeel het, kyk hulle eerstens na die teks. Hoe die teks geskryf is en dán hoe die akteur of aktrise die rol uitbeeld en die kyker beïnvloed, bepaal hoe goed ’n produksie is, het Solomons gesê.

“Wat ek voor uitkyk as die mense so jonk is, is hulle commitment,” het Oscar Petersen, akteur en ’n beoordelaar, gesê. “Hy verstaan nie, maar hy spring in en doen dit met oorgawe.”

Leerders van Hoërskool Parel Vallei met die trofeë wat hulle by die Klein Libertas Tienertoneelfees vir hul stuk, Boet en Saartjie, gewen het. Van links na regs: Jaques Joubert, William Le Roux, Carli Erasmus en Andus van Rooyen. FOTO: Daniélle Schaafsma

Brink Nelson, die regisseur van Paul Roos Gimnasium se produksie Raap, ontvang ’n toekenning vir beste grimering by die 18de Klein Libertas Tienertoneelfees. Van links na regs: Oscar Petersen, akteur en beoordelaar by die fees, Nelson en Carien Punt, sekretaresse en projekbestuurder van die Klein Libertas-teatergroep. Tienertoneel leer vir kinders ’n “allegaartjie van vaardighede – en natuurlik is dit altyd lekker”, het Nelson gesê. FOTO: Daniélle Schaafsma

Klein Libertas Tienertoneelfees – Posted on August 12th, 2025 by Paul Roos

Bron: https://paulroos.co.za/klein-libertas-tienertoneelfees/ 

Paul Roos se produksie, Raap, onder leiding van Brink Nelson en Hannelie Caine het op 9 Augustus aan die Klein Libertas Tienertoneelfees by die Drostdy Teater deelgeneem.

Raap het die volgende toekennings ontvang: 9 goud, 11 silwer en 1 brons.

Die produksie is in die volgende kategorieë genomineer: Beste Klankversorging, Beste Ligteversorging, Beste Ondersteunende Akteur (Nicolai Botes en Dieter de Kock onderskeidelik), Beste Akteur (Lian Winckler), Beste Kostuums, Beste Grimering en Beste Regie.

Raap is bekroon met die trofee vir Beste Grimering en Dieter de Kock is aangewys as die Beste Ondersteunende Akteur van die fees. Baie geluk met hierdie besonderse prestasie.